Praag en die Ewige Wederkeer

Met ons kat wat dood is, slaap ek snags bietjie beter maar word nog vroeg wakker. Nou dink ek daaraan om tussen 2 en 6 ‘n bietjie te skryf. Vandat ek in Praag was, spook daar iets by my: al die Tsjegge en Pole wat in die sestigerjare hierheen gekom het omdat SA in daardie tyd vir hulle na ‘n “land van vryheid” gelyk het weens ons antikommunisme. Dis een van die vele skadukante van ons geskiedenis en natuurlik sou geen linkse skrywer iets daaroor durf skryf nie. Ek stel my egter voor watter skok dit moes wees om in 1968 vanuit Tsjeggië te vlug en dan hier in Johannesburg te beland waar daar heelwat oortuigde kommuniste was. Hoe sou so ‘n Tsjeg dit ervaar? Noodgedwonge sou hy eerder by Afrikaners moes aansluiting vind as liberale of linkse Engelse. Hoe integreer iemand wat ‘n Slawiese taal praat in ‘n Afrikaanse omgewing? Eers moet hy leer om bepaalde en onbepaalde lidwoorde te gebruik, haha.

Mense het destyds so tekere gegaan oor Milan Kundera, maar ek dink nie hy was ooit ‘n goeie skrywer nie. Bloot iemand met pretensies wat gelukkig genoeg was om deur Gallimard in Frans uitgegee te word. Sy boeke is eers heelwat later in sy moedertaal, Tsjeggies, uitgegee. Oor Nietzsche het hy ook nie veel geweet nie.

Ek voel egter ‘n band met die Oos-Europeërs omdat hulle, soos ons Afrikaners, so lank eintlik stroomop was in hul opstand teen kommunistiese verdrukking wat in Westerse hoofstede deur die dekadente élite in hul ontwerpersklere as “reaksionêr” afgelag is.

En dan is daar Jan Hus, wie se standbeeld daar op die plein in Praag staan… Toe hy op die brandstapel die kans gegee is om sy idees oor geloof af te sweer, het hy verkies om verbrand te word. Die brandstapel was die wêreld se eerste vorm van “kansellering”!

Ek wil weer Praag toe gaan, al het ek op die lughawe ‘n argument met een van die grondwaardinne gehad omdat sy Engels met my gepraat het.

Maar ek meen so ‘n Tsjeggiese Eurokaner wat die kommunisme eenkeer in Tsjeggië en een keer in SA beleef het, sal heelwat vir ons te sê kon hê. Praat nou van die Ewige Wederkeer…


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *