Waarom dra Afrikaners hoedens?

Nou ja, hier is my nuwe hoed, die Akubra Coober Pedy in die kleur Santone Fawn wat ek vanoggend by die Johannesburgse Internasionale Lughawe al die pad van Australië af gaan haal het. Dit was soos iets uit ‘n spioenasiefliek: ek wat ‘n aantal verkeersbeamptes en veiligheidswagte probeer pypkan terwyl ek agteruit in die busterminus inry waar ‘n dame in ‘n groen bostuk die hoed uit haar tas pluk en vir my deur die motorvenster aangee. Terwyl die geuniformde personeel al dreigend op my motor afstorm omdat ek seker ‘n dosyn lughawereëls oortree.

Weereens dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het – julle weet wie julle is. Ek sal een of ander tyd ‘n foto van die uwe daarmee plaas, dalk as ek môre-oggend so rondom tienuur gaan stap as die lentesonnetjie hier in Johannesburg al begin bak.

Die enigste aanhaling uit die Engels-Suid-Afrikaanse literatuur wat my bybly, is natuurlik die sinsnede uit Peter WIlhelm se “The Dark Wood”: “Why do Afrikaners wear hats?” Behalwe dat ons ons velle teen die Afrikason wil beskerm en nie daarvan hou om so warm te kry nie, is daar seker ‘n swetterjoel ontologiese vraagstukke daar rondom wat ek dalk vir myself sal moet probeer uitpluis.

Eintlik het ek voorheen so ‘n hoed besit waarmee ek in die hoofkantoor van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, Engelenburghuis, rondom 2005 deur ‘n Sunday Times-fotograaf afgeneem is vir ‘n artikel deur die vermaarde joernalis Lin Sampson wat nog af en toe vir my ‘n e-pos uit die Kaap skryf. Maar die voortreflike hoofbedekking is gesteel of het weggeraak of is iewers deur my in ‘n afwesige oomblik agterlaat. Ná soveel jare het ek hom nou vervang en dit verskaf my groot vreugde.

Die laaste hoed wat ek gekoop het, was ‘n taamlike goedkoop swart Stetson van wol en nie haasvilt soos dié nie. Ek het dit in 2012 naby Charlotte, Noord-Carolina, raakgeloop. Of was dit nou in Tennessee waar ek agterna ‘n draai gaan maak het en selfs Elvis se beroemde woning “Graceland” in Memphis gesien het? Die Stetson dra ek feitlik elke dag as ek gaan stap, maar nou kan ek hom afwissel met dié immigrant vanuit “Doer Onder”.

Ná my ootreding van lughaweverkeersregulasies wat my wonder bo wonder sonder ‘n boete laat ontsnap het — of sonder dat my motor weggesleep is soos enkele jare gelede met my gebeur het — het ek agtergekom dat die brandstofliggie in die motor aangegaan het. Toe ry ek maar na die “Engen Sky Stop” soos dit bekendstaan naas die parkeergarages en sit sommer die hoed op. Synde Sondag, vra die pompjoggie vir my: “Is u op pad kerk toe om te gaan bid?” Ek antwoord toe maar: “Nee, maar ek dink ek moet bid vir meer geld om hierdie duur petrol te kan bekostig.”

Daar is sommer al ‘n eerste antwoord wat Piet Croucamp en ander kopdoekdraers na hul asems sal laat snak: op een of ander manier herinner hoedens ‘n mens aan die kerk of mense wat kerk toe gaan. Die ateïs of godloënaar se kop is kaal, op meer as een manier. En hy dra geen hoed nie, want dit herinner hom aan Afrikaners, Paul Kruger se pluiskuil, cowboys, PW Botha en Ronald Reagan. Lenin was kaalkop en hy het net ‘n pet gedra om kwansuis soos ‘n werker te lyk.

Die enigste probleem is dat so ‘n omgang met die problematiek van hoedens en waarom Afrikaners hoedens dra, my onder die indruk bring dat ek oor glad te min sullke items in my andersins taamlik aansienlike vestimentêre versameling (as dit nou nie ‘n onsuiwere gallisisme is waarvoor ek uitgejou gaan word nie) beskik. Dit kan ‘n duur storie word. Aan die ander kant is ander mense verslaaf aan drank en sigarette. Of BMW’s. Hoe het Johannes Kerkorrel nou weer gesing? “Ek ry ‘n BMW, ek sal jou niks gee.” Nie dat ek die hoofstroommedia se aanbidding van Ralph Rabie deel nie. Maar ‘n hedendaagse BMW — teenoor die klassieke modelle soos die 2002, die 507 en ‘n paar ander — is ‘n baie lelike ding vir mense sonder enige smaak. Of die alomteenwoordige tenderpreneurs.

Ek is nie ‘n groot aanhanger van Australië nie. Dit lyk vir my na ‘n vervelige Engelse land vol vervelige Engelse mense wat rugby of krieket kyk en met ‘n snaakse aksent praat. Maar gee die duiwel wat hom toekom: hulle ken van hoedens.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *